Besluit
We're glad you like it!
Enjoying the content? You can save this to your favorites by logging in to your account.
Romeine 6:22 Maar nou – julle is vrygemaak van die sonde en in diens van God gestel en die vrug daarvan is dat julle geheilig word, en die uiteinde is die ewige lewe.
Kom ons kyk, as jy vandag moet sê, op ‘n skaal van nul tot tien, hoe naby aan God voel jy? Tien is ‘n ryk, intieme verhouding met Jesus. Nul is … dit is ‘n miljoen kilometer ver. Dink nou – hoe naby voel jy regtig nou aan Hom? Daar is soveel mense, wat jare gelede ‘n wonderlike verhouding met Jesus gehad het. Maar weet jy hoe dit gaan? Die daaglikse druk van werk, familie, kinders … die een ding het tot die ander gelei, en dit wil nou voorkom asof hierdie Jesus ‘n miljoen kilometer ver van jou af is. Was dit ooit eg? Is Hy nog daar? Die ergste van alles is, dat ons al hoe verder van Hom af wegbeweeg het. Voor ons onsself kan kry, het ons weer in ons ou slegte gewoontes – dink jy ek kan maar die s-woord gebruik? – ja, in ons ou sondes verval. Ek wonder, ken jy so iemand? Miskien is dit dalk belangrik om weer vir jouself te vra hoe jou verhouding met God lyk? Bely jou sonde in opregtheid, kry jou verhouding met Hom reg: Romeine 6:22 Maar nou – julle is vrygemaak van die sonde en in diens van God gestel en die vrug daarvan is dat julle geheilig word, en die uiteinde is die ewige lewe. Vriend, luister na my. Jesus het gesterwe om vir al jou sondes te betaal en vir jou ‘n splinternuwe lewe te gee; ‘n lewe wat vry is van daardie ou sondes. ‘n Nuwe lewe waarin jy vir Hom en net vir Hom leef. Glo jy dit of nie? Wel, as jy dit glo, is dit tyd om te besluit. Kyk, ek en jy kan al die verskonings onder die son maak … besig, druk, verantwoordelikhede. Nee man, hou op om jouself te bluf en verskonings te maak. Besluit. Besluit om jou lewe net vir God te leef. Besluit om Hom lief te hê, besluit om Hom te eer, besluit om jouself te verootmoedig. Dan besluit jy dat jy van nou af, met elke asemteug wat jy neem, elke tree wat jy gee, vir Hom en Hom alleen lewe. Jesus is die weg na die Ewige Lewe. Besluit. Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.